Pages 1 2 3 4 5 6 7 8 - Click on a Article or Advert Below- to View.....

 

 

KHS “SUBBIES” DIE BESTE
By die trompoppie kompetisie wat gehou is op 18 April by Hoërskool Wesvalia het KHS se subleidster Shadrean Brown in die small drill afdeling gewen. KHS se vlaggroep behaal 'n algehele 2de plek.
Foto bo:
Agter v.l.n.r.: Amy Wetdewich, Thiona Botha, Veronique Strydom, Careen J van Vuuren (afrigter)
Voor v.l.n.r.: Nkagi Mochwanaesi, Deandré Hough

Laerskool La Hoff Netbalspeelster gekies vir KOSH-Netbalspan
Monique O'Callaghan, 0/13 netbalspeler van Laerskool La Hoff moes wys wat in haar steek tydens die netbalproewe. Sy het die keurders met haar goeie spel oortuig en is vir die KOSH-span gekies.

Wesvalia-atleet kwalifiseer vir Jeugspele
Petrus Coetzee een van Hoërskool Wesvalia se atlete het by die afgelope ASA se SA byeenkoms in Pretoria, 27 / 28 Maart, 'n bronsmedalje gekry in die 400 m - jeugafdeling.

Met sy tyd (48,6 sek) het hy ook gekwalifiseer vir die Jeugspele in Italië wat later gehou gaan word.

KHS Skaak uitblinkers
Twee KHS'ers het uitgeblink in die finaal van die Nu-Power Super Sestien skaakreeks. Philip Oosthuizen en Johanni Styger wen albei meer as 7 uit 9 spelle by die kompetisie wat van 22 tot 24 April by Hoërskool Dr. E.G. Jansen in Boksburg plaasgevind het.
Hulle ontvang ook albei medaljes vir hul prestasie.

Wessies vs Gobabis
Hoërskool Wesvalia se tweede netbalspan het na hul onlangse oorwinning as Super 12 wenners geen bang haar op hul koppe nie.

Hulle het op Woensdag 29 April die Gobabis netbalspan van Namibië wat hier in Suid-Afrika op toer was aangedurf. Die span het ook teen ander skole in die dorp soos onder andere HTS, Schoonspruit en Klerksdorp Hoërskool gespeel. Die Wessies was glo die enigste span wat die Namibiërs kon wen en dit met 'n puntetelling van 21-19.

KHS'ER TUSSEN HARDEBAARDE
KHS se krieketspeler Jacques Matthee speel tans vir die Senior Noordwes Amateurkrieketspan. Jacques, wat vir KHS se Eerste Span speel, kwyt hom goed van sy taak tussen die hardebaarde.

Wessies presteer by Super 8 finaal
Hoërskool Wesvalia se hokkie-, netbal-, en rugbyspanne het Saterdag 25 April aan die Super 8 finaal by Hoërskool Brandwag in Benoni gaan deelneem.

Wesvalia se rugbyspanne eindig algeheel derde. Die o/14-span speel gelykop teen Dinamika met 'n puntetelling van 10 elk en tree as gesamentlike wenners uit die stryd. Pieter Jansen van Rensburg is die speler van hierdie wedstryd gewees. Die o/15's verloor ongelukkig teen Hoogenhout met 'n puntetelling van 3-8 en tree as naaswenner van die Super 8 uit. Die speler van die wedstryd is Donnovan de Klerk. Die o/16's verloor 3-26 teen Hoogenhout en behaal 'n sesde plek met Wouter Ras as speler van die wedstryd. Die tweedespan wen 46-3 teen Dinamika en behaal 'n vyfde plek met Clinton Geels as speler van die wedstryd. Die eerste span verloor net net met 'n puntetelling van 10-14 teen Brandwag en behaal 'n vierde plek met Gideon Visser as speler van die wedstryd.
Die Wessie-netbalspanne eindig ook algeheel derde. Die o/14 A's wen 14-9 teen Grenswag met Giana Wilken as speler van die wedstryd en eindig in die vyfde plek. Die o/15 A's verloor ongelukkig teen Dinamika met 'n puntetelling van 7-22, maar hulle tree steeds as naaswenners uit die Super 8 stryd. Megan Marais is aangewys as die speler van hierdie wedstryd. Die o/16 A's wen teen Brandwag met 'n puntetelling van 18-17 en eindig vyfde in die kompetisie. Janeé Coetzer is die speler van hierdie wedstryd. Die tweedespan wen teen Hoogenhout met 'n puntetelling van 15-13 en tree as algehele wenners uit die stryd. Die hele span word hier aangewys as die spelers van die wedstryd. Die eerste span verloor ongelukkig met 'n puntetelling van 10-13 met Suhanri Loubser as speler van die wedstryd.

Die hokkie-spanne het net so goed gevaar. Die o/14's verloor ongelukkig 2-1 teen Brandwag met 'n “penalty shootout” en eindig vierde in die reeks. Die o/15's verloor ook teen Generaal Hertzog met 'n “penalty shootout” 3-2, maar eindig steeds as naaswenners in die reeks. Die o/16's wen 1-0 teen Dinamika. Die tweedespan wen ook 3-1 teen Brandwag en eindig derde in die stryd en die eerstespan wen ook met 'n puntetelling van 1-0 teen Dinamika en tree ook derde uit die stryd.

Die Wessies het puik gevaar en haal 'n algehele derde plek in die Super 8 reeks.

'n “Shark” in die Wessie-tenk!
Monty Dumond, die losskakel en Heelagter van die Sharks het op Maandag 20 April 'n draai by die Wessies kom maak om hulle die fyner kunsies van skoptegnieke te leer.

Die Wessies het baie geleer en is baie dankbaar vir Monty Dumond se insette.

Gekies vir Presidentspan
Etienne Botha van Laerskool Meiringspark het gedurende die Aprilskoolvakansie deelgeneem aan die vereenigingtoer van die S.A.
Binnenshuise Krieket. Hy is gekies vir die Presidentspan wat ook die "Diamond Squad" genoem word.

KHS hokkietoere 'n groot sukses
Gedurende die April vakansie het al KHS se hokkiespanne hokkieklinieke by die Noordwes Universiteit in Potchefstroom bygewoon ten einde hul voor te berei vir die komende hokkieliga sowel as die NuPower reeks.
Soggens is die meisies afgerig en in die middae is wedstryde gespeel. Al die spanne het voorwaar uitstekend gevaar. KHS wil ook aan hul ouers en borge bedank want sonder hulle ondersteuning sou die bywoning van die klinieke nie moontlik gewees het nie.

Wessies sê hul sê goed
Twee van Hoërskool Wesvalia se leerders, Igna Botha en Jehlé Pretorius het onderskeidelik eerste en tweede geëindig tydens 'n Public Speaking kompetisie wat plaasgevind het op 29 April by Klerksdorp Hoërskool.


 

Back to Top